Sosiale transformasie

Een definisie van Sosiale transformasie is die proses waardeur individue die sosiaal toegeskrewe status van hulle ouers in 'n sosiaal verworwe (bereikbare) status vir hulleself verander. 'n Tweede definisie verwys egter na grootskaalse maatskaplike veranderinge soos kulturele hervormings of transformasies. Eersgenoemde behels die individu, laasgenoemde die maatskaplike stelsel.

Die Individu

Anders as sosiale reproduksie en sosiale mobiliteit wat na intergenerasionele mobiliteit of die mate kyk waarin die sosiale status tussen die ouers en die kinders se generasie verander, fokus sosiale transformasie op die manier waarop 'n individu die klaskultuur kan verander waarin hy hom tuis voel. Sosiale transformasie geskied deur middel van drie stappe: deur assosiërende aanneming, assosiërende distansiëring en die kennelike aanbieding van die self.

Sosiale transformasie word as 'n interpersoonlike onderhandelingsproses beskou aangesien dit vereis dat die individu se sosiale posisie deur ander erken word sodat daar transformasie kan plaasvind. Dit is 'n wederkerige verhouding waarin mense aangeneem moet word en met die kulturele verwagtings van hulle spesifieke klaslidmaatskap geïdentifiseer moet word. Dit is die enigste manier waarop mense van hulle eie toegeskrewe sosiale status na 'n nuwe verworwe status kan beweeg.

Die Sosiale stelsel

Sosiale transformasie in hierdie konteks vereis 'n verskuiwing in die kollektiewe bewussyn van 'n samelewing – plaaslik, provinsiaal, nasionaal of globaal – sodat die realiteit deur konsensus verfyn word. Dit gebeur dikwels deur eksterne stimulus en is soms intensioneel. Deur die eeue heen is baie sosiale transformasies deur wetenskaplike ontdekkings sowel as godsdienstige en koninklike edikte teweeggebring.

Stede wat 'n nuwe identiteit aangeneem het, dien as voorbeelde van bewustelike sosiale transformasies wat tot opnuut bekragtigde bevolkings, ekonomiese welvaart en herstelde burgerlike trots lei. Een voorbeeld van 'n nasie wat in hierdie intensionele sosiale transformasies geslaag het, is Suid-Afrika toe apartheid in 1994 afgeskaf is.

'n Sosiale transformasie is 'n transformasie wat oor 'n lang tydperk gehandhaaf word. Mense onderskryf gesindhede en waardes binne 'n heeltemal nuwe konteks (of paradigma) wat op ander aannames en oortuigings gebaseer is.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search